Jacques-arendt-promotions


 

Professional DJ's & MC's

Professional Sound & Lighting

Follow me on:    Request a FREE Quote

Samro-licensed-dj

’n Plaaslike radio-omroeper van Port Elizabeth meen hy sal binnekort sy “Springbokkleure in radio” verwerf wanneer hy ’n program op RSG sal uitsaai.

BY Cara-Lee Dorfling

’n Plaaslike radio-omroeper van Port Elizabeth meen hy sal binnekort sy “Springbokkleure in radio” verwerf wanneer hy ’n program op RSG sal uitsaai.


Die stem van Jacques Arendt is al meer as ’n dekade op die gemeenskap- en streekradiostasies in die Oos-Kaap bekend.


Maar op Kersdag sal sy stem nasionaal gehoor word, wanneer hy op RSG ’n splinternuwe program, Middernag-serenade, tussen 23:00 en middernag uit Port Elizabeth sal aanbied.
Hy sê die program is ’n goedvoel-, laataand-, niesteurende, ontspanningsmusiekprogram. Die program sal net ’n week lank op die lug wees.


“Om op ’n nasionale radiostasie te kan uitsaai, is sekerlik my grootste mylpaal as omroeper tot dusver, en ek kan nie wag om die program vir dié groot gehoor aan te bied nie,” sê Arendt.
Hy sê as kind wou hy net twee beroepe volg, naamlik ’n stoomtreindrywer of ’n radio-omroeper.
Toe stoomtreine gestaak word, het Arendt geweet hy gaan ’n omroeper word.
Op skool het hy reeds musiek gemaak by geleenthede en ná skool het hy as platejoggie opgetree. “Dít was die naaste wat ek aan ’n omroeper in daardie stadium kon kom.”


Op universiteit het hy sy kans gewaag by Radio KingfisherFM deur vir ’n nagwagpos aansoek te doen.


“Hulle het geweet ek wil eintlik op die radio praat. Een Sondagaand het ’n omroeper nie opgedaag nie en ek het die geleentheid gekry om op die radio te praat.
“Twee weke later het ek my eerste program, Sweef soos ’n arend, gekry.”


In 2002 het Arendt ’n permanente omroeperswerk by BayFM-gemeenskapsradio gekry, wat hy tot 2013 volgehou het.


Hierna het hy vir AlgoaFM, ’n streekradiostasie, gewerk en die middagprogram vir die Suid-Kaap uitgesaai.


In Maart vanjaar het Arendt by dié radiostasie bedank toe hy besluit dit is tyd om sy groot droom, om as ’n omroeper vir RSG te werk, na te streef.
“Ek is so dankbaar vir die geleentheid om op dieselfde radiostasie uit te saai waar Fonnie du Plooy, Fanus Rautenbach, Niekie van den Berg gehoor is en waar Derrich Gardner tans uitsaai.
“Vir my is RSG soos om Springbokkleure in radio te behaal.”
Hoewel Arendt se program voorlopig net ’n week op die lug sal wees, hoop hy dít is die begin van sy nasionale loopbaan as omroeper.


Magda Kruger, stasiebestuurder, het verduidelik hoe dit gebeur het, dat Arendt die program sal aanbied.
“Oor die fees- en vakansietyd gaan RSG se normale laataand inbeldiensprogramme bietjie rus en het ons vir Jacques gevra om vir ons ses musiekprogramme saam te stel vir laataand,  van Maandag 25 Desember tot Saterdag 30 Desember.


“Sy opdrag was om ‘n musiekprogram saam te stel en aan te bied wat lusiteraars so in die laaste week van 2017 rustig sal stem, laat ontspan en laat krag gee vir die nuwe jaar.
“Jacques is ‘n ervare musiekaanbieder en het ‘n goeie kennis van die tipe musiek wat ons wil hê vir daardie program.  RSG het hom onlangs genader om ‘n demonstrasie-program saam te stel en voor te lê, wat hy toe gedoen het en ons is gelukkig met wat hy gedoen het.”

read more...
 December 14, 2017
Comments (0)
DJ
Cara-Lee D...
Contact us:   Jacques Arendt  |     061 586 7670  |   info@mydj.co.za

OK / Close